realiteit se riglyne

Die ding van enige werklikheid is dat iemand altyd verandering aanvoel, iemand het eenmaal gese dat verandering die enigste konstante in die lewe is… Wat realiteit ‘n moeilike konsep maak, veral as daar in terme van geloof gepraat word, is dat realiteit verskillend vir elke individu is, veral in geloofsterme. Die wetenskap vra egter na ‘n realiteit waar alles wat ontdek word dieselfde sal wees onafhanklik van persoonlike interpretasies.

Enige realiteitsaansprake moet geinterpreteer word, wat dit vir die wetenskap ingewikkeld maak omdat interpretasies van dieselfde gebeure kan verskil van persoon tot persoon. Wetenskap, volgens Lyotard se argument in Condition of Postmodernity, word ondersteun deur performatiwiteit. Sonder die moontlikheid om verdure wetenskaplike werk te genereer sal wetenskap uitsterf. Woolley gaan verder deur te se dat wetenskap se eindoel mag is; wetenskaplikes, tegnikuste, en instrumente word nie ingespan om waarheid te vind nie, maar eerder om mag in stand te hou.

‘n Verfrissende anderse gedagte is dat Woolley noem dat die wetenskap slegs dit in sy kanon toelaat wat hy kan verwerp. Daarom word allerhande alternatiewe maniere van behandeling in die mediese wereld nie as medies geag nie, omdat dit nie op grond van wetenskaplike beginsels verwerp kan word nie. Die wetenskap kan met ander woorde nie buite die wetenskap dink nie. Die wetenskaplike realiteit is beperk tot ‘n uniforme sisteem.

Wat realiteit verder betref is dat dit altyd getoets wil word. Die intrumente waarmee realiteit getoets word is egter nie altyd so akkuraat of doeltreffend nie, soos uitgewys in die Copenhagen interpretasie. Die Copenhagen interpretasie het juis uitgewys dat daar twee sisteme parallel tot mekaar moet bestaan om dieselfde sisteem te kan evalueer. Die een vir klassieke fisika, en die ander vir quantum fisika, hoe vreemd dit ookal mag wees. Hierdie Copenhagen interpretasie het die bekende Schrodinger in 1935 deur ‘n eksperiment verduidelik van die kat in die boks saam met soveel bestraling wat hom of kan doodmaak of nie, die persoon sal egter nie weet of die kat dood is of nie totdat hy die boks oopmaak en kyk na die kat nie. Deur die eksperiment op ‘n baie ingewikkelder vlak as wat ek nou hier verduidelik het Schrodinger bewys dat realiteit slegs bestaan indien dit geobserveer kan word, as dit nie gesien kan word nie, is daar altyd legio realiteit tegelyke tyd aan die bestaan, of nie. Totdat daar gekyk word nie ‘n realiteit is dit nie realiteit nie, en ook ‘n realiteit, ‘n ware dualisme in die sin. Quantum fisikuste noem hierdie duale verskynsel ‘n superposisie van albei stasis.  Heisenberg het geskryf dat die oorgang van die moontlike na die werklike gebeur gedurende die daad van observasie.

Klassieke staaltjies kan in hierdie geval opgeroep word, soos die van die boom wat val in die woud, en as niemand dit hoor nie het dit geval of nie. Die antwoord sal egter beide wees, want totdat iemand dit kan hoor sal beide opsies ‘n moontlikheid wees.

Hierdie gedagte van die werklikheid wat slegs is terwyl dit geobserveer word buig vandag steeds wetenskaplikes se koppe omdat dit geen univorme sisteem voorstel nie, en inderdaad bewys dat verskillende waarnemingssisteme gebruik moet word dieselfde realiteit te kwantifiseer.

 

Die teoloog Ronald Knox het ‘n gediggie geskryf;

 

There once was a man who said ‘God

Must think it exceedingly odd

If he finds that this tree

Continues to be

When there’s no one about in the Quad.’

 

….waarop ‘n anonieme persoon reageer:

 

Dear Sir, Your astonishment’s odd:

‘I am always about in the Quad.

And that’s why the tree

Will continue to be,

Since observed by Yours faithfully, God.’

 

En hier is waar ons as teoloe moet aanspraak maak op realiteit, dat alles is, die sienlike en onsienlike, want God is orals te alle tye, Hy is alwetend, alomteenwoordig, en almagtig, daarom bestaan alles.

Daarom kan Twitter nie as ligsinnig afgemaak word nie, want ook daar is God. Hoe Hy daar figurer weet ek nog nie mooi nie, maar ek vermoed dat Hy daar is, saam met sy kinders. Twitter is ‘n nuwe terrein, dit kan seker vergelyk word met ‘n land wat gekoloniseer word. Die taal is nog ietwat vreemd, dit is immer slegs 140 karakters van aard, hoe die mense reageer is vreemd, hoe hulle lewe is vreemd, maar tog moet daar ‘n poging aangewend word om tot hierdie mense deur te dring en die evangelie aan hulle te bring, want hulle bestaan daar net soveel indien nie meer nie, as ek wat hier voor my rekenaar sit en die lig op my vel sien val.

Daarom kan en mag ons nie se dat Twitter onbelangrik is nie, want dit is realiteit. Twitter is net ‘n wereld wat nog nie deur die kerk ten volle verstaan word nie omdat dit buite die wetenskap van die kerk le.

So hoekom omarm die kerk nie bietjie dit wat nie tot sy kanon konformeer nie?

na ‘n virtuele wereld

In 1992 het Banjamin Woolley ‘n boek geskryf met die titel, ‘Virtual Worlds’ hierin verken hy die nuwe ruimtes wat aan die oopgaan was in die rekenaar bedryf. Hy verken dit op so ‘n manier dat baie van dit wat hy se steeds vandag van toepassing is omdat hy ‘n filosofiese benadering gevolg het.

In die inleiding van sy boek begin hy deur vir Karl Marx van 1856 aan te haal wanneer hy se: “In our days everything is pregnant with its contrary.” Hiermee gee hy aanleiding tot wat die virtuele wereld moontlik is om iets uit niks te wil skep, om iets te wil maak wat nie regtig bestaan nie.

Hy noem dat die era van vandag (wel nou al 20jaar gelede) geken kan word as die era van kunsmatisering, die era waar drome waar gemaak word, ‘n era van verbeelding. Hy wonder egter ook of daar perke aan so ‘n kunsmatige realiteit is. Hy vrae ook wat die gevolge is van wanneer rekenaars sintetiese werelde konstrueer wat selfs meer realisties is as realiteit self?

Hy vertel ‘n storie van ‘n fiktiewe tv program wat die lug gesien het oor ‘n ‘fly fishing’ boek deur ‘n fiktiewe outeur, dat die gevolge was dat die mense in die winkels gaan soek het vir hierdie boek deur hierdie outeur. Die vervaardigers van die tv reeks het dit agtergekom en toe so ‘n boek laat skryf en die fiktiewe outeur met die bekendstelling van die boek weer laat leef in regte lewe. So het fiksie in realiteit verander deur die bemiddeling van die media. Wat le hierin opgesluit?

Hy raak ook aan die gedagte dat ‘n oorgekompliseerde kunsmatige omgewing die self se persepsie van realiteit selfs kan verswak.

Hy vrae weer hoe dit moontlik is om ‘n perspektief op realiteit te behou in ‘n era wanneer die onwerklike al meer gerealiseer word… Wat hier ‘n belangrike onderskeiding is, is die verskil tussen die ontologiese en die epistimilogiese. Die ontologiese vraag is: “wat is realiteit?” Die epistimilogiese vraag is: “wat is die waarheid?” Die ontologiese vraag is egter die swaarder vraag in die geval, want wat die waarheid is kan van verskillende benadering van die werklikheid aangepak word. Is jy ‘n rasionalis of ‘n empirisis? Maak nie saak watter een jy is nie, jy moet steeds gebruik maak van dieselfde realiteit om by ‘n epistimologiese antwoord uit te kom, dus weeg die ontologie swaarder. Die faktor van bespreking is juis wat hierdie soeke na waarheid kompliseer, want die virtuele is besig om nuwe werklikhede te skep wat net so indien nie meer van ‘n realiteit is as realiteit self nie. So om die vraag, wat is die waarheid te antwoord, is dit eers nodig om die vraag, wat is realiteit, te antwoord. Die ontologiese gaan die epistimologiese voor.

In sleutelteorie sou die sleutel wees vir die waarheid; [ontologie] [skep] [epistimologie]

‘n Baie belangrike sin in sy inleiding wil ek graag aanhaal, omdat dit die kern van die virtualiteit aanraak; “Take away reality, and all that is left is relativism, a belief that truth van be established simply by asserting it, that the self is all that exists – no, that myself is all that exists…Empowered by the personal computer, liberated by virtual reality, the individual becomes the God of his or her own universe.” (Woolley 1992:9)

Hierdie inleiding het my baie aan die dink gehad, veral kontra die twitter beweging wat besig is om soos ‘n veldbrand te versprei. Ek wonder of jongmense regtig ‘n alternatiewe realiteit vir hulself wil skep? Of dit nie net dalk ‘n modegier is wat hulle volg en onbewustelik deel in die skeppende proses van hul digitale self nie. Ek wonder. Ons het te make met ‘n skaapsamelewing. Moet die kerk saam met sy skape stap in hierdie rigting om sy skape te verstaan? Die metafoor leen hom daartoe uit. Wat gevaarlik is, is dat in hierdie selfskeppende realiteit is die eie ek outonoom, en anders as in die wereld is God die Skepper. Daar moet dus gesoek word na die gevolge van hierdie selfskepper aksies, en hoe dit die verhouding van die mens tot God beinvloed.

Omdat die mens nie vir God nodig het om ‘n virtuele wereld te skep nie, mag dit dalk onderbewustelik die mens beinvloed om te dink dat hy/sy nie vir God nodig het om skeppend in die wereld te handel nie. Om mense se lewens te vorm vanuit die perspektief van die evangeliese boodskap, of om mense bloot uit die eie ek te vorm. ‘n Eie ek wat nooit by die diepte van die evangelie kan kom nie, ‘n eie ek wat bloot op die immanente gefokus sal bly en weinig sal uitkring na die transendente toe vanwee die gaping van die transendente in die virtuele, of omdat die transendente in die virtuele juis die self is.

So as daar gevra word, hoe moet daar gekommunikeer word in hierdie nuwe era van die virtuele, dan moet daar ook gevra word of daar gekommunikeer moet word, en of daar eerder gemedieer moet word? Om dit wat ons glo en bely nie slegs in die virtuele in te dra nie (kommunikasie) maar dit daar te laat vestig (medieer) en hoe dit gedoen word is heeltyd aan die verander omdat die digitale wereld juis van so ‘n vloeibare aard is.

Losse gedagtes wat kan maal tot iets meer konkreet.

Summary: Towards a Sociological Understanding of Social Media: Theorizing Twitter

Hierdie artikel wil vir ons wys hoe daar gebruik gemaak kan word van ouer sosiologiese beginsels om nuwe verskynsels soos Twitter te analiseer. Murthy slaag ook in hierdie doel om dit te illustreer aan die hand van verskeie gerespekteerde sosioloe.

As daar na Twitter gekyk word is dit opvallend dat hierdie nuwe media poog om tyd en plek te kompakteer, asook poog om die grense tussen die private en die openbare te vervaag. Vir die wat Twitter kritiseer as medium wat die brief begreig, is dit ironies om uit te wys dat die sosiale media soos Twitter juis die permanente aard van die brief beklemtoon in sy snelheid, en daarom sal briewe belangrik bly en nie verlate raak nie. Die vraag is egter of die volgende kommunikasie tegnologie permanensie gaan leen aan Twitter? Twitter en ander sosiale media se krag le daarin dat dit ‘n beroep op verbruikers doen om gereeld updates te maak sodat hulle volgelinge geinteresseer sal bly.

Dit sal goed wees om miskien ‘n historiese agtergrond oor Twitter te gee. Twitter word geken as ‘n mikroblog vanwee die beperking op die inskrywings wat gemaak kan word, hierdie inskrywings word beperk tot slegs 140 karakters, dieselfde as ‘n sms. In so ‘n mikroblog het verbruikers ‘n publieke profiel wat meer van hulle vertel aan die wereld. Hierdie profiel dien as ‘n digitale self van die verbruiker, vanaf hierdie profiel plaas die verbruiker updates oor sy alledaagse lewe wat enige onderwerp kan wees. Hierdie updates kan op ingeteken word deur ander verbruikers soos hulle dit belangrik ag. Wat Twitter so bietjie anders maak as ander sosiale media platvorms is dat eenrigting verkeer is, sonder die inherente tweerigting verkeer. ‘n Verbruiker kan besluit wie se updates hy wil ontvang, maar nie noodwendig wie ontvang sy updates nie. Hierdie sinspeel op die vervaging van die private en die openbare sfere.

Twitter het baie te make met hoe die persoon homself aanbied. Deur gereeld updates te maak op hulle Twitter feeds word dit ‘n integrale deel van die persoon se identiteit, aldus digitale identiteit. Dit is ook belangrik dat selfs die banale updates met erns geag word, want soos Bourdieu noem is selfs die banale swanger met betekenis. Daar kan ook gese word dat die sosiale media, soos Twitter, mense nader aan mekaar gebring het. Twitter het die potensiaal om tyd en ruimte te transendeer. Tweets moet egter nie net as kommunikasie gesien word nie, maar ook as ‘n wordende proses itv identiteit. As daar slegs na tweets as vorme van kommunikasie gekyk word, word die deel daarvan gemis wat vorm gee aan persone se lewens.

As daar van Twitter itv Kartetiese denke gepraat word id “Ek tweet, daarom is ek.” Is daar ‘n logiese absurditeit daarin te vinde in die dat die eersgenoemde nie net met die self te make het nie, maar inherent ‘n sosiale aspek behels, met gevolg word die individu al meer gekarakteriseer deur eksterne aspekte ipv interne karakter eienskappe. Hierdie “ek tweet, daarom is ek” gedagtes le sentraal tot dit wat moderniteit of seker eerder post-moderniteit aan die self opdring. Om die self al meer te karakteriseer aan die hand van eksterne faktore, eerder om sin van binne na buite te skep.

Twitter kan as ‘n gemeenskap gesien word wat in gebeure deel, of nog meer ‘n samelewing van ervaring. Dit moet ook in gedagte gehou word dat al verander tegnologie die manier van hoe daar geleef word, verander dit tog nie die essensiele karakter van lewe nie. Soos die selfoon, intensifiseer Twitter net die reeds bestaande karakter eienskappe van die lewe.

‘n Paar opmerking oor die bogenoemde gedagtes;

Die gedagte dat sosiale media tyd en ruimte kompakteer laat my dadelik dink aan ‘n intensiewer leefstyl wat geleef en vereis word van mense. “Die lewe is kort” is ‘n bekende slagspreuk wat hierdie gedagte resoneer.

Omdat Twitter uit SMS gebore is, is die inhoud van Twitter verstaanbaar vir almal wat vertroud is met SMS, die verskil is dat Twitter publiek is, waar SMS privaat is. Twitter is in staat daartoe om ‘n moderne Bulksms te wees. Die hekkie van die vervaging van die private moet egter oorkom word.

Twitter as ‘event society’ maak sin, ook omdat die kerk dit juis moet gebruik, want die kerk is die organisasie wat die meeste weeklikse events reel. Hierdie kan ook vertaal word as ‘n ervarings-samelewing.

Ontvangs (van die tweets) hang af van die gehoor. ‘n Ouer kerk wat in gesprek tree met ‘n jonger gehoor. Taal sal belangrik wees. Die ‘hoe’ dra die ‘wat’. Die media oorleef deur die medium.

Het ons vloeibare besluite in ‘n digitale era nodig?

As daar gekyk word na JAvdBerg se navorsing oor besluitneming in die digitale era sal gesien word dat die mens al meer digitaal (en mobiel) begin leef, tot ‘n so mate dat daar gepraat word van die digitalisering van die self. Die digitale wereld se wese is vinnig en daarom word daar van die digitale self vereis om vinnige besluite te kan neem. Hierdie besluite wat uit die aard van die saak vele kante het moet vinnig onder druk geneem word en ook toegepas word anders val die persoon uit die nuwe (digitale) wereld wat geskep is. Daarom vra Van den Berg tot hoe ‘n mate beinvloed die persoon se geloofslewe sy besluitnemingsproses in hierdie digitale snelweg?

Van den Berg noem dat besluite vloeibaar geword het, om in pas met die digitale tydsgees te wees. Of hierdie ‘n goeie of slegte ding is, is natuurlik onder bespreking en sal nog lank wees. Daar is positiewe gevolge, maar ook so is daar negatiewes.

Daarom is my vraag, of ons vloeibare besluite nodig het in hierdie digitale era? Veral waar die kerk een van die wagte van die samelewing behoort te wees saam met die pers en die gereg onder andere. Het ons nie dalk eerder besluite nodig wat nie vloeibaar is nie?

As daar na populere media gekyk word keur mense al hoe meer terug na aardse modes, stadige maniere van kos maak, om gebruik te maak van herwinbare bronne, om self hulle kos te groei met hulle hande in die grond. Is hierdie nie dalk tendense wat vir ons se dat mense na standvastigheid soek, veral te midde van hierdie spoedige samelewing nie?

God is standvastig. Sy besluite staan virewig. Hy is die een onveranderlike in ‘n veranderende wereld. Moet wat die kerk verkondig nie God weerspieel nie? Daarom met my respons op ‘n vloeibare besluite sal ek vra of besluite moet vloeibaar wees, of moet die vertolking van standvastige besluite eerder vloeibaar wees?

Is jy wat jy tweet?

Ten spyte van die toenemende gebruik van Twitter, is daar min navorsing oor die verband tussen Twitter en persoonlikheid van die gebruiker. Druk verbruikers hulle persoonlikheid op sosiale media uit? Kan daar akkurate persoonlikheidsoordele gevel word op grond van die persoon se Twitter profiel? Twitter as mikroblog kan as ‘n goeie medium dien om die verband tussen mikroblog en persoonlikheid te sien. Deur die mikroblog, in die geval Twitter, te bestudeer sal ons sien hoe persoonlikheid uitgedruk word in geskrewe vorm. Die doel van die studie is dus om die verhouding tussen persoonlikheid en Twitter te peil. 

Ja, die verhouding kan gepeil word, baie abstrak en soms wuspelturig, maar met die behulp van tegnologie wat woorde analiseer is dit tog moontlik. Daar kan veral verskille in geslag, ouderdom, en lokaliteit ontleed word deur te kyk na woorde eie tot die bepaalde groep mense. So ook kan daar deur ‘n analise van positiewe en negatiewe, asook persoonlike en onpersoonlike woorde gesien word of die persoon meer geneig is om ‘n ekstro of introvert te wees.

So daar is tog ‘n merkbare eie karakter van elke persoon se mikroblog te siene op die Twitter webwerf. Maar wat sal nou met daardie inligting gedoen word? Vir bemarkingsdoeleindes is daar vele opsies, maar wat my betref wonder ek oor die geloofsaspek van die bevindinge. Hoe kan hierdie navorsing in verhouding staan met die kerk? Hoe kan die kerk dit gebruik? Moet die kerk al meer kompartemente skep in die samelewing of moet die samelewing juis bymekaar gebring word in die kerk, met al sy verskillende fassette?

Wat Jeugbediening betref is die vraag weer op die tafel oor intergenerasionele bediening… Moet kinderkerk buite die kerk geskied in die saal of moet dit in die hoof erediens geskied? En as dit in die hoof erediens geskied, hoe akkommodeer jy van jonk tot oud in een erediens?

Van wat ek op ‘n onwetenskaplike manier kan aflei deur blote observasie van die sosiale media, van facebook en twitter, is dat hierdie vorme van sosiale media juis besig is om die mure van die samelewing af te breek. Sosiale media skep juis die ruimte dat almal by almal kan leer, veral in die geval van twitter.

As God dit is wat in die Skrif van Hom geopenbaar is, is Hy net dit?

As die kerk is wat sy verkondig, is sy net dit?

As jy is wat jy tweet, is jy net dit?

Summary, Theoretical signposts for tracing spirituality within the fluid decision-making of a mobile virtual reality

Inleiding: Virtuele realiteit en die deugde van realiteit

In die woorde van Sean Parker van The Social Network: “Ons het in die platteland gewoon, ons het in die stad gewoon, nou sal ons in die internet woon.” Hierdie woorde merk die skuif wat besig is om plaas te vind reg oor die wereld van fisies na digitaal. ‘n Ander skuif wat ook besig is om plaas te vind is op grond van besluitneming. Om besluite te neem in die digitale era gekenmerk deur sy vloeibaarheid het besluite al meer vlugtig gemaak as gevolg van die vinnig veranderende wereld waar kommunikasie tegnologie koning kraai.

Beweging na praktyk: Virtuele realiteit (en daarna?)

Tans vind die mens homself in ‘n wereld gekarakteriseer deur ‘n nuwe sosiale struktuur van die informasie era, wat gevolglik ‘n globale virtuele kultuur na vore gebring het, wat tyd en ruimte transendeer. Meer en meer mense is nou in staat om mekaar reg oor die wereld te ontmoet. Hierdie vloeibare wereld vorm die dramatiese verhoog vir die soeke na verbeterde besluitnemings moontlikhede. Sweet noem dat Maslow se hierargie van behoeftes verander moet word na asemhaal, voedsel, water, en selfone. Hierdie nuwe hierargie van behoeftes dui pertinent op die mobiele globale gemeenskap wat na vore tree.

Beweging na teorie: Deugde van realiteit

Praktiese teologie het belange in die praktiese aard van die teologie, en ook in ‘n sin is alle toelogie prakties. Hierdie teologie of eendersyds beliggaamde spiritualiteit word dan sigbaar in besluitnemings strategiee. Die vraag is presies dit, tot hoe ‘n mate, indien wel, beinvloed die geloofsaspek van die mobiele lewe die besluitnemingsproses.

Tegnologie konfronteer nie alleen die toenemende beperkinge van die menslike brein en liggaam nie, maar verander ook die strukture van die lewe en samelewing vanuit ‘n ekologiese oogpunt gesien.

Die biografiese kant van die sosiale media sal al hoe meer prominent na vore tree soos die status van ‘n persoon al meer ‘n lewensverhaal begin vertel. Hierdie status updates sal ‘n argievering van die lewe van die persoon word, en sodoende sal ‘n eie handelsmerk geskep word met ‘n positiewe of negatiewe beeld vir die wereld van die sosiale media. Die fokus skuif al meer na die individu in die digitale ruimte, die individu word verheerlik vanuit ‘n pseudo-gemeenskaplike terrein.

Met hierdie skuiwe wat besig is om plaas te vind kan daar gepraat word van ‘n digitalisering van die self. Dit kan nie ontken word dat nuwe tegnologië nie die self beinvloed nie. Dit beinvloed die diepste wese van die self, dit vorm denkwyses van die self, die ander, en die wereld.

Summary, Tweeting God: Tracing popular Christian theologians’ expressions of faith on Twitter.

In die voorafgaande opsomming (abstract) oor hoe JAvdB beoog om die Tweeting God artikel aan te pak is daar ‘n paar woorde wat vir my uitstaan. Dit is tiperend van die digitale navorsing en ek gaan nog baie daarmee te doen kry. Daarom wil ek dit graag nou al aan die lig stel. Terme soos; ‘dynamic’, ‘fluid’, ‘multiple levels of societal understanding’ en ‘new language’ is wat aanvanklik vir my uitstaan en ook ‘n redelike beeld gee van wat verwag kan word.

Osmer se eerste vraag: Wat is aan die gebeur?

Twitter is besig om ‘n nuwe medium van informasie te raak, en selfs die tradisionele vorme van die media te konfronteer deurdat dit vinnig onmiddelike nuus kan oordra. Die bogenoemde stelling word geillustreer deur Sohaib Athar @ReallyVirtual wanneer hy reeds 10ure voordat enige offisiele nuusberigte verskyn het, ‘n tweet die lug laat sien het oor ‘n ongewone helikopter wat bo-oor Abbottabad vlieg. Nog ‘n manier hoe Twitter die konvensionele konfronteer is deur innoverend met ou bronne om te gaan. Hamza Kashgari, soos gedokumenteer deur Cohen en Schmidt van Google in hulle boek The Digital Era, het in gesprek met die profeet Mohammed getree. Hierdie poging tot gesprek het egter ontsteltening uitgelok by die Islamitiese gemeenskap en het hulle ge-eis dat hy tereggestel moet word.

Hierdie bogenoemde wys ons dat Twitter op ‘n vinnige manier (realtime) nuus kan oordra en gesprek toelaat oor kontinente wat sigbaar is vir die wereld. Met uitdrukkings van die self in ‘n bepaalde omgewing  op ‘n bepaalde tydstip, is die individu onmiddelik deel van ‘n internasionale digitale gemeenskap.

Osmer se tweede vraag: Hoekom is dit aan die gebeur?

Hassan wys vir ons in sy boek, The Information Society, dat die kontemporere wereld gevorm word deur drie faktore, die eerste is neoliberale globalisering, die tweede is die informasie tegnologie revolusie, en die derde is ‘n mengsel van die eerste twee se gevolge, wat per implikasie die versnelling en inkrimping van bestaan voorhou. Rushkoff, in sy boek, Present Shock. When Everything Happens Now, noem vir ons dat alle informasie lewendig, onmiddelik, en altyd aan is. Hy se dat dit nie slegs ‘n versnelling van bestaan is nie, maar dat tegnologie ‘n verandering van leefstyl teweeg gebring het. Knott-Craig in sy boek, Mobinomics, MXit and Africa’s Mobile Revolution, gaan voort om te se dat die selfoon en toegang tot sosiale media ‘n belangrike dryfveer vir die mobile wereld geword het. Daarom is Goggin van mening dat die rol van mobile platvorms ‘n belangrike rol speel in die vorm van die menslike bestaan. Goggin is die een wat die eksistensieele vraag aanspreek.

Osmer se derde vraag: Wat moet aan die gebeur wees?

‘n Teologie van die kultuur vertrou op die voorveronderstelling dat kulturele uitdrukkings van die self ‘n realiteit kan transendeer, ‘n realiteit wat bestaan, wat saak maak, en waarin die voorsienigheid aan die werk is. Teologie bied vir ons die taal om hierdie transenderende realiteit te verwoord. Deur gebruik te maak van ‘n hermeneutiese praktiese teologie sal dit moontlik wees om die geleefde spiritualiteite te kan karteer.

Heidi Campbell skryf in haar boek, Digital Religion. Understanding Religious Practice in New Media Worlds, dat wanneer die religieuse praktyk (lees beliggaamde Woord) en die digitale kultuur mekaar ontmoet ontwikkel daar ‘n derde spasie. Hierdie derde spasie is ‘n hibriede en vloeibare konteks met ‘n nuwe logika en ‘n unieke vorm van betekenis gewing. ‘n Digitale religie as konsep bevestig nie net die unieke karakter van hoe digitale tegnologie vorm nie, maar ook dat religieuse praktyke vorm gee aan ‘n nuwe vorm van geleefde digitaliteit.

In die virtuele era word daar ‘n toenemende rol gespeel deur die mobiele kommunikasie, wat aanleiding gee tot die gedagte dat uitdrukkings van geloof al meer dinamies en vloeibaar sal word. ‘n Nuwe en relavante taal van en vir geloof word ook so deur digitalisering gevorm. ‘n Geleefde religie, wat voorgestaan word deur Ruard Ganzevoort, sal dus verander na ‘n geleefde digitale religie, met die aksent van geleefde wat val op die beliggaaming van die gekontekstualiseerde geloof.

Hierdie geleefde digitale religie (lees digitale identiteit) kan gevind word in voorbeelde soos ‘n Twitter verbruiker se @handle, sy biografie inskrywing, die profiel foto, en selfs deur die persone wat hy volg op die sosiale netwerk.

Wat gevind sal word deur die toepassing van die bogenoemde vra vir ‘n re-evaluasie van die menslike kondisie, wat veral sal fokus op die impak van die virtuele mobiele era op die menslike geestestoestand, op individuele vlak, maar ook op gemeenskaplike vlak.

Osmer se vierde vraag: Hoe kan ons reageer?

Die praktiese terrein is van belang vir praktiese teologiese navorsing, daarom is die terrein (Twitter, sosiale media, die internet) die plek waar die heilige gevolg en geleef moet word. Om in hierdie terrein te leef is dit nodig om die populere kultuur van die konteks reg te verstaan sodat die effekte daarvan op die mens dienooreenkomstig gehanteer kan word. Christene moet die populere kultuur ontleed om te weet hoe dit die self, bure, kinders, en die kerk beinvloed. Spesifiek doen kultuur vier dinge volgens Vanhoozer: kultuur kommunikeer, kultuur orienteer, kultuur reproduseer, en kultuur kultuveer. Daarom is dit van kritieke belang om ‘n Christelike geleefde digitale kultuur te vestig en te leef. Die Twitter terrein is van so ‘n aard dat die evolusionere karakter daarvan sal aanhou om dinamiese assosiasies te maak met die sosiale media, wat ‘n uitvloeisel van geloof kan wees.

Gevolgtrekking

Daar le egter ‘n moontlike punt van kritiek in hierdie studie se temporele aard opgesluit. Daar is geen waarborg dat hierdie besonderse groei in die sosiale media, spesifiek op die Twitter platvorm, oor 3jaar steeds merkbaar sal wees nie. Die Twitter-fenomeen is nog in flux, wat beteken dat dit nog slegs dit is, ‘n fenomeen. Twitter as terrein het nog nie stabiliseer nie, daarom is dit nog gewaagd om daaraan ‘n permanente status toe te ken. Ten spyte van die temporele aard van hierdie digitale medium is dit steeds dit, ‘n medium tot uitdrukking van geloof en daarom moet dit ondersoek word. Dit is ook merkbaar dat selfs in die nuutjies van die wereld kom die teologie te voorskyn, hoe mense hulself uitleef op nuwe maniere, in nuwe teologiese taal, vir ‘n nuwe generasie gelowiges. Die uitdrukking van geloof op Twitter bevestig juis die relevansie van geloof in die digitale era.