Die Nihilisme: Die Dramaturgiese Gemeenskap

Die Middeleeuse Gemeenskap

As daar na die middeleeue gekyk word in verhouding met die (post)modernisme, is daar altyd die vraag waar kan dit met mekaar verbind word, ‘n ander belangrike vraag is ook, waar kan dit nie verbind word nie.

Gemeenskap was in die middeleeuse tyd ‘n sentrale en integrale deel van die lewe en die gemeenskap het hulle vertolk as ‘n ontmoeting tussen die immanente syndes en die transendente syn. Drie eienskappe hiervan is belangrik;

1) Gemeenskap was vir die middeleeue ‘n ontologiese saak. Gemeenskap is met ander woorde met die werklikheid geidentifiseer.

2) Gemeenskap was as ‘n hirargiese gemeenskap verstaan, waar die syn altyd voorkeur geniet bo die syndes, die eenheid bo die veelheid.

3) Die hirargiese aard van die gemeenskap moet egter nie met ‘n donker stemming verstaan word nie, daar bestaan steeds die skeppende moontlikheid via dialoog tussen die middeleeue en die dramatologie.

Hoe moeilik dit ookal is om vanuit die modernisme hierdie wederkerige verhouding te verstaan tussen syn en synde as ‘n dankbare verhouding eerder as iets wat met stemming en ressentiment aanskou word, moet daar besef word dat die dramatologie sentraal tot hierdie verhouding staan.

Modernisme en Postmodernisme

Hierbo is dit duidelik dat gemeenskap verstaan word vanuit ‘n dramaturgiese sin, maar wat gebeur nou as die akteurs hulself as outonoom ten opsigte van mekaar begin beskou? Hoe en watter impak het dit op die gemeenskap?

Die modernisme met sy dualistiese aard waar die akteur as outonoom beskou word, sowel as die postmodernisme wat verval in ‘n monisme waar die self en die ander hul selfstandigheid verloor in ‘n indifferensie, toon dat beide (modernisme en postmodernisme) ‘n onvermoe het om aan die gemeenskap te dink as komplekse deelnemende gebeure.

Die modernistiese dualisme slaan om in ‘n postmodernistiese monisme, met dieselfde nihilistiese implikasies vir gemeenskap as waartoe die modernistiese dualisme aanleiding gegee het.

Die Nihilisme: Die Verlies van die Wêreld

Die Verlies van die Wêreld

Inleidend kan Modernisme gesien word as ‘n manier van beheer uitoefen, om beheer toe te pas sodat daar versluier of verdoesel kan word. Sodat die algehele verlies van die wêreld nie so hard gevoel word nie, omdat juis die staat met sy talle ‘private’ arms hierdie realiteit verdoesel. Postmodernisme word gesien as die era waarin daar bekend gemaak word of eerder ontmasker word dat die Modernisme self lei aan hierdie siekte van verlies. Dat dit self leeg is.

Die oproep van die postmodernisme is nie ‘n oproep tot die dramatiese deelname nie, maar eerder die verskansing daarvan.

“Human beings are only human to the extent that they are in the midst of others and clothed in symbols that give purpose to their existence.” _ Andre Leroi-Gourhan

Die wêreld

Wat is die wêreld? Die wêreld verwys na die verhoog, die dramatiese ruimte tussen die syn en die syndes waarin hul in ‘n bemiddelde verhouding tree en ‘n deelnemende gemeenskap tot stand bring. In die werklikheid mede-verskyn die syn en die syndes. Die wêreld is miskien niks anders as die mede-verskynende gebeure nie.

In hierdie deelname ervaar die synmakende een nie ‘n afstand soos in die postmodernisme nie. Die syn en die synmakende staan in verhouding, waar die synde deel in die oorvloedigheid van die syn. So anders as die postmodernisme is die synde nie ‘n vreemdeling nie, maar ‘n deelgenoot. Hierdie deelnemende proses wys ‘n dualistiese aard uit asook ‘n monistiese eenheid tussen syn en synde, wat eerder genoem kan word ‘n twee-eenheid.

Goosen noem dat die postmoderne wêreld nie tot die orde van die natuur behoort nie, maar tot die orde van die kultuur. Dus skep die samelewing die werklikheid eerder as andersom.

‘n Interessante wending wat Goosen neem is wanneer hy praat van die lewensvorme in die natuur. Hy noem dat hoe hoër vlak die lewensvorm beklee hoe belangriker plek neem vryheid daarin. In hierdie hoogste vlakke van vryheid speel ook die grootste vorme van verwesenliking af tussen syn en synde, op hierdie vlak geskied daardie deelnemende verhouding wat bo genoem is. In hulle deelname aan mekaar tree die volwaardige wêreld na vore.

“Vryheid gaan egter nie sonder risiko gepaard nie, inteendeel, op die hoogste vlakke van die lewe is die risiko en gevaar ook op die hoogste.” (Goosen D, 36:2002)

Wêreldstigting vir Goosen geskied vanuit die bogenoemde as ‘n Chiastiese struktuur.

“Die wêreld gebeur as drama in en deur die kruising tussen die spontaneiteit en die ontvanklikheid van sowel die syn en die syndes.” (Goosen D, 40:2002)

“Anders verwoord, in en deur die erotiese aantrekkingkrag wat vanuit die transendente syn uitgaan, word die immanente denke met goddelike waansin of entoesiasme gevul en so buite homself gekantel.” (Goosen D, 40:2002)

Anders as in die Modernisme is die denke se aanleg tot verwesenliking nie volledig nie, en daarom word die klem hierbo op die ontvanklike spontane aard van die denke geplaas.

Waar die Postmodernisme poog om die twee-eenheid in ‘n monistiese eenheid op te hef, poog die Modernisme om die twee-eenheid in ‘n dualistiese tweeheid uitmekaar te haal. Die gevolg is dieselfde, verlies van die wêreld.

Die Postmodernisme

In die postmodernisme maak dinge soos stabiliteit plek vir ‘n algemene gevoel van beweegbaarheid. Die gevolge van hierdie abselute verwatering van die werklikheid is dat die onderskeid tussen die syn en die syndes al hoe meer vervaag, en raak verlore sonder begrensing. Dit het weer die gevolg dat die verlies aan die afgebakende werklikheid maak dat daar anderkant die wêreld as sodanig getree word. Binne die wereld, maar daarbuite in ‘n vloeibare eendimensionele postmodernisme sonder onderskeid tussen syn en synde.

‘n Ander vraag is; Is ons anderkant die wêreld, of slegs anderkant ‘n ou wêreld?

Omdat die wêreld homself openbaar deur ekonomiese simbole is sprake van ‘n transendentele verhouding min tot geen, maar dit is egter ook nie nodig vir die postmodernisme nie, want deur die ekonomiese simbole verbind die wêreld haarself volledig aan die selfgenoegsame immanente.

As die wêreld as ‘n ekonomiese wêreld omskryf word, kan ons maar praat van die individu as die ewige toeris, wat sy woning opsoek in die nerens, dus die ekonomiese wêreld kan gesien word as ‘n plek sonder plek, ‘n nie-wêreld.

Wêreldverlies is tegelyk ook dramaverlies, ‘n verlies aan die verhouding aspek, die verlies van die twee-eenheid. Saam met die wêreldverlies verloor dinge ook hulle simboliese gewig. Die epog van die wêreldverlies is met ander woorde die tyd waarin die (woorde van die) syn onmeetlik lig geword het.

Goosen noem prontuit in bladsy 51 “Die twee-eenheid tussen die transendente en die immanente word in die epog van die “post” op die spel geplaas.”

In die postmodernisme word die dinge oneindig lig en betekenisloos.

Hoe gewigloser die dinge word, des te meer word daarna gevra.

Die transendente gee juis aan die immanente betekenis omdat daar ‘n verskil tussen die twee is, en sonder daardie verskil en deelname aan en van mekaar gee die immanente dinge hul diepte prys.

Die ironie van die saak is, in plaas daarvan dat die onbeperkte vraag na dinge in die postmodernisme gewigtigheid verleen, vind net die teenoorgestelde plaas en word daar op ‘n ironiese wyse nog minder gewig aan die synde gegee wat later in totale afskeid van gewig eindig. Goosen stel dit, “Hoe swaarlywiger die ekonomie van die onbeperkte verbruik word, hoe minder gewig het die dinge.”

Die Modernisme

Die postmodernisme moet ideehistories as ‘n verlengstuk van die modernisme verstaan word. As die postmodernis deur die nihilisme gekenmerk word is dit in beginsel reeds waar van die modernisme.

Vir die premoderne mens was die dood ‘n raaisel, want hoe kan daar iets soos die dood wees as alles lewendig is? Vir die modernisme is dit net mooi omgekeer. Omdat alles vanuit ‘n puristiese wetenskaplike perspektief gesien word as dooie dinge wat meganisties in mekaar in pas en bloot aan die spreekwoordlike loop bly, word die wêreld as dood gesien en word daar gevra hoe daar enigsins iets soos die lewe kan wees?

Die ironie van die saak is dat die een nie sonder die ander kan nie. Die lewe het die dood nodig en die dood het die lewe nodig om enigsins betekenis te heg aan beide die terme.

Ek veg teen die dood, daarom is ek, lui die eintlike slagspreuk van die modernisme.

So word die dood die nuwe transendente van die moderniteit, waaromheen alles draai en waarna alles uiteindelik verdoem is. Dit is hoekom tema’s soos angs, trauma, en katastrofe so baie aandag geniet in vandag se wêreld. Met die dood as die eintlike lotsbestemming word angs dit waardeur die werklikheid ontsluit word.

Die denke, rasio, is nie meer iets van die mooi en die goeie ontsluit deur die deelnemende twee-eenheid nie, nee, die denke het eerder iets geword waardeur daar gepoog word om die afgrond van die dood te vermy. Die denke het ‘n instrument tot mag oor die dood geword.

Hierdie hoofstuk saamgevat wil eintlik net uitlig dat sonder die verhoudingselement in die werklikheid tussen die syn en die syndes verval alle betekenis in die niks. Die syn dien as verwysingspunt vir die synde deur op ‘n erotiese manier die oorvloed wat uit die syn vloei uit te stort op die synde en so ‘n wederkerige verhouding te vestig tussen die syn en die synde waar hulle in verhouding tot mekaar staan en die synde totaal en al afhanklik is van die syn vir betekenis, want sonder die oorvloed wat aan die synde geskenk word is daar geen sin vir die synde. Daarom word die gedagte van die twee-eenheid voorgestel waar die syn en die synde as ‘n eenheid binne en ook tog buite die wêreld funksioneer in ‘n verhouding.

Die Nihilisme: Inleiding

Inleiding

“In die plek van die dialogiese gedruis wat die werklikheid eens was, tree nou die onpeilbare stilte van die nihil. Ons verwys kortliks in groter besonderhede na elkeen van die skilderye.”

Die Middeleeuse werk, die Corpus Christi Mysticum, is geskilder deur die relatief onbekende 14de-eeuse skilder, Andrea di Bonaiuti.

Om op te som: Vir die Corpus Christi Mysticum is die ganse werklikheid ‘n hiërargie van dramatiese intensiteite wat aan mekaar deelneem. In en deur die deelnemende gebeure is die hoogste dramatiese intensiteit verwesenlik en die werklikheid self so tot “voltooiing” gebring.

Die tweede skildery ter bespreking is die van Mark Rothko, Chapel, wat hy in 1970 geskilder het.

Hierdie skildery is weer amper die teenoorgestelde van die vorige. Dit is gestroop van enige simboliese aard waarvan die vorige skildery in oorvloed het. Rothko het duidelik van puristiese oorwegings die estetiese figuratief gesuiwer. Die abstrakte word telkens vanuit puriteinse voorkeure bo die beeldende figuratiewe verkies.

Rothko is hier vir ons ‘n duidelike voorbeeld van die slagspreuk van die Modernisme van “Less is more.” Ironies word juis die teenoorgestelde deur hierdie fresco en doeke uitgedruk. In plaas daarvan dat daar sin uit die abstrakte nihilistiese  geput is, is daar net mooi niks daaruit gehaal nie en het dit op niks uitgeloop, niks. Vir die abstrakte om enigsins betekenis te dra het dit die verwysingspunt van die figuratiewe nodig en daarsonder kan dit na niks verwys nie. Die abstrakte verloor sy vergelykingspunt, soos Goosen dit stel. Vanwee hierdie verlies aan betekenis in die abstrakte kom alle sin daarin tot ‘n stilstand.

“Die stemming wat in hierdie werk aanwesig is, word egter nie deur die oggendson-optimisme onderlê nie.”