realiteit se riglyne

Die ding van enige werklikheid is dat iemand altyd verandering aanvoel, iemand het eenmaal gese dat verandering die enigste konstante in die lewe is… Wat realiteit ‘n moeilike konsep maak, veral as daar in terme van geloof gepraat word, is dat realiteit verskillend vir elke individu is, veral in geloofsterme. Die wetenskap vra egter na ‘n realiteit waar alles wat ontdek word dieselfde sal wees onafhanklik van persoonlike interpretasies.

Enige realiteitsaansprake moet geinterpreteer word, wat dit vir die wetenskap ingewikkeld maak omdat interpretasies van dieselfde gebeure kan verskil van persoon tot persoon. Wetenskap, volgens Lyotard se argument in Condition of Postmodernity, word ondersteun deur performatiwiteit. Sonder die moontlikheid om verdure wetenskaplike werk te genereer sal wetenskap uitsterf. Woolley gaan verder deur te se dat wetenskap se eindoel mag is; wetenskaplikes, tegnikuste, en instrumente word nie ingespan om waarheid te vind nie, maar eerder om mag in stand te hou.

‘n Verfrissende anderse gedagte is dat Woolley noem dat die wetenskap slegs dit in sy kanon toelaat wat hy kan verwerp. Daarom word allerhande alternatiewe maniere van behandeling in die mediese wereld nie as medies geag nie, omdat dit nie op grond van wetenskaplike beginsels verwerp kan word nie. Die wetenskap kan met ander woorde nie buite die wetenskap dink nie. Die wetenskaplike realiteit is beperk tot ‘n uniforme sisteem.

Wat realiteit verder betref is dat dit altyd getoets wil word. Die intrumente waarmee realiteit getoets word is egter nie altyd so akkuraat of doeltreffend nie, soos uitgewys in die Copenhagen interpretasie. Die Copenhagen interpretasie het juis uitgewys dat daar twee sisteme parallel tot mekaar moet bestaan om dieselfde sisteem te kan evalueer. Die een vir klassieke fisika, en die ander vir quantum fisika, hoe vreemd dit ookal mag wees. Hierdie Copenhagen interpretasie het die bekende Schrodinger in 1935 deur ‘n eksperiment verduidelik van die kat in die boks saam met soveel bestraling wat hom of kan doodmaak of nie, die persoon sal egter nie weet of die kat dood is of nie totdat hy die boks oopmaak en kyk na die kat nie. Deur die eksperiment op ‘n baie ingewikkelder vlak as wat ek nou hier verduidelik het Schrodinger bewys dat realiteit slegs bestaan indien dit geobserveer kan word, as dit nie gesien kan word nie, is daar altyd legio realiteit tegelyke tyd aan die bestaan, of nie. Totdat daar gekyk word nie ‘n realiteit is dit nie realiteit nie, en ook ‘n realiteit, ‘n ware dualisme in die sin. Quantum fisikuste noem hierdie duale verskynsel ‘n superposisie van albei stasis.  Heisenberg het geskryf dat die oorgang van die moontlike na die werklike gebeur gedurende die daad van observasie.

Klassieke staaltjies kan in hierdie geval opgeroep word, soos die van die boom wat val in die woud, en as niemand dit hoor nie het dit geval of nie. Die antwoord sal egter beide wees, want totdat iemand dit kan hoor sal beide opsies ‘n moontlikheid wees.

Hierdie gedagte van die werklikheid wat slegs is terwyl dit geobserveer word buig vandag steeds wetenskaplikes se koppe omdat dit geen univorme sisteem voorstel nie, en inderdaad bewys dat verskillende waarnemingssisteme gebruik moet word dieselfde realiteit te kwantifiseer.

 

Die teoloog Ronald Knox het ‘n gediggie geskryf;

 

There once was a man who said ‘God

Must think it exceedingly odd

If he finds that this tree

Continues to be

When there’s no one about in the Quad.’

 

….waarop ‘n anonieme persoon reageer:

 

Dear Sir, Your astonishment’s odd:

‘I am always about in the Quad.

And that’s why the tree

Will continue to be,

Since observed by Yours faithfully, God.’

 

En hier is waar ons as teoloe moet aanspraak maak op realiteit, dat alles is, die sienlike en onsienlike, want God is orals te alle tye, Hy is alwetend, alomteenwoordig, en almagtig, daarom bestaan alles.

Daarom kan Twitter nie as ligsinnig afgemaak word nie, want ook daar is God. Hoe Hy daar figurer weet ek nog nie mooi nie, maar ek vermoed dat Hy daar is, saam met sy kinders. Twitter is ‘n nuwe terrein, dit kan seker vergelyk word met ‘n land wat gekoloniseer word. Die taal is nog ietwat vreemd, dit is immer slegs 140 karakters van aard, hoe die mense reageer is vreemd, hoe hulle lewe is vreemd, maar tog moet daar ‘n poging aangewend word om tot hierdie mense deur te dring en die evangelie aan hulle te bring, want hulle bestaan daar net soveel indien nie meer nie, as ek wat hier voor my rekenaar sit en die lig op my vel sien val.

Daarom kan en mag ons nie se dat Twitter onbelangrik is nie, want dit is realiteit. Twitter is net ‘n wereld wat nog nie deur die kerk ten volle verstaan word nie omdat dit buite die wetenskap van die kerk le.

So hoekom omarm die kerk nie bietjie dit wat nie tot sy kanon konformeer nie?

na ‘n virtuele wereld

In 1992 het Banjamin Woolley ‘n boek geskryf met die titel, ‘Virtual Worlds’ hierin verken hy die nuwe ruimtes wat aan die oopgaan was in die rekenaar bedryf. Hy verken dit op so ‘n manier dat baie van dit wat hy se steeds vandag van toepassing is omdat hy ‘n filosofiese benadering gevolg het.

In die inleiding van sy boek begin hy deur vir Karl Marx van 1856 aan te haal wanneer hy se: “In our days everything is pregnant with its contrary.” Hiermee gee hy aanleiding tot wat die virtuele wereld moontlik is om iets uit niks te wil skep, om iets te wil maak wat nie regtig bestaan nie.

Hy noem dat die era van vandag (wel nou al 20jaar gelede) geken kan word as die era van kunsmatisering, die era waar drome waar gemaak word, ‘n era van verbeelding. Hy wonder egter ook of daar perke aan so ‘n kunsmatige realiteit is. Hy vrae ook wat die gevolge is van wanneer rekenaars sintetiese werelde konstrueer wat selfs meer realisties is as realiteit self?

Hy vertel ‘n storie van ‘n fiktiewe tv program wat die lug gesien het oor ‘n ‘fly fishing’ boek deur ‘n fiktiewe outeur, dat die gevolge was dat die mense in die winkels gaan soek het vir hierdie boek deur hierdie outeur. Die vervaardigers van die tv reeks het dit agtergekom en toe so ‘n boek laat skryf en die fiktiewe outeur met die bekendstelling van die boek weer laat leef in regte lewe. So het fiksie in realiteit verander deur die bemiddeling van die media. Wat le hierin opgesluit?

Hy raak ook aan die gedagte dat ‘n oorgekompliseerde kunsmatige omgewing die self se persepsie van realiteit selfs kan verswak.

Hy vrae weer hoe dit moontlik is om ‘n perspektief op realiteit te behou in ‘n era wanneer die onwerklike al meer gerealiseer word… Wat hier ‘n belangrike onderskeiding is, is die verskil tussen die ontologiese en die epistimilogiese. Die ontologiese vraag is: “wat is realiteit?” Die epistimilogiese vraag is: “wat is die waarheid?” Die ontologiese vraag is egter die swaarder vraag in die geval, want wat die waarheid is kan van verskillende benadering van die werklikheid aangepak word. Is jy ‘n rasionalis of ‘n empirisis? Maak nie saak watter een jy is nie, jy moet steeds gebruik maak van dieselfde realiteit om by ‘n epistimologiese antwoord uit te kom, dus weeg die ontologie swaarder. Die faktor van bespreking is juis wat hierdie soeke na waarheid kompliseer, want die virtuele is besig om nuwe werklikhede te skep wat net so indien nie meer van ‘n realiteit is as realiteit self nie. So om die vraag, wat is die waarheid te antwoord, is dit eers nodig om die vraag, wat is realiteit, te antwoord. Die ontologiese gaan die epistimologiese voor.

In sleutelteorie sou die sleutel wees vir die waarheid; [ontologie] [skep] [epistimologie]

‘n Baie belangrike sin in sy inleiding wil ek graag aanhaal, omdat dit die kern van die virtualiteit aanraak; “Take away reality, and all that is left is relativism, a belief that truth van be established simply by asserting it, that the self is all that exists – no, that myself is all that exists…Empowered by the personal computer, liberated by virtual reality, the individual becomes the God of his or her own universe.” (Woolley 1992:9)

Hierdie inleiding het my baie aan die dink gehad, veral kontra die twitter beweging wat besig is om soos ‘n veldbrand te versprei. Ek wonder of jongmense regtig ‘n alternatiewe realiteit vir hulself wil skep? Of dit nie net dalk ‘n modegier is wat hulle volg en onbewustelik deel in die skeppende proses van hul digitale self nie. Ek wonder. Ons het te make met ‘n skaapsamelewing. Moet die kerk saam met sy skape stap in hierdie rigting om sy skape te verstaan? Die metafoor leen hom daartoe uit. Wat gevaarlik is, is dat in hierdie selfskeppende realiteit is die eie ek outonoom, en anders as in die wereld is God die Skepper. Daar moet dus gesoek word na die gevolge van hierdie selfskepper aksies, en hoe dit die verhouding van die mens tot God beinvloed.

Omdat die mens nie vir God nodig het om ‘n virtuele wereld te skep nie, mag dit dalk onderbewustelik die mens beinvloed om te dink dat hy/sy nie vir God nodig het om skeppend in die wereld te handel nie. Om mense se lewens te vorm vanuit die perspektief van die evangeliese boodskap, of om mense bloot uit die eie ek te vorm. ‘n Eie ek wat nooit by die diepte van die evangelie kan kom nie, ‘n eie ek wat bloot op die immanente gefokus sal bly en weinig sal uitkring na die transendente toe vanwee die gaping van die transendente in die virtuele, of omdat die transendente in die virtuele juis die self is.

So as daar gevra word, hoe moet daar gekommunikeer word in hierdie nuwe era van die virtuele, dan moet daar ook gevra word of daar gekommunikeer moet word, en of daar eerder gemedieer moet word? Om dit wat ons glo en bely nie slegs in die virtuele in te dra nie (kommunikasie) maar dit daar te laat vestig (medieer) en hoe dit gedoen word is heeltyd aan die verander omdat die digitale wereld juis van so ‘n vloeibare aard is.

Losse gedagtes wat kan maal tot iets meer konkreet.