In 1992 het Banjamin Woolley ‘n boek geskryf met die titel, ‘Virtual Worlds’ hierin verken hy die nuwe ruimtes wat aan die oopgaan was in die rekenaar bedryf. Hy verken dit op so ‘n manier dat baie van dit wat hy se steeds vandag van toepassing is omdat hy ‘n filosofiese benadering gevolg het.

In die inleiding van sy boek begin hy deur vir Karl Marx van 1856 aan te haal wanneer hy se: “In our days everything is pregnant with its contrary.” Hiermee gee hy aanleiding tot wat die virtuele wereld moontlik is om iets uit niks te wil skep, om iets te wil maak wat nie regtig bestaan nie.

Hy noem dat die era van vandag (wel nou al 20jaar gelede) geken kan word as die era van kunsmatisering, die era waar drome waar gemaak word, ‘n era van verbeelding. Hy wonder egter ook of daar perke aan so ‘n kunsmatige realiteit is. Hy vrae ook wat die gevolge is van wanneer rekenaars sintetiese werelde konstrueer wat selfs meer realisties is as realiteit self?

Hy vertel ‘n storie van ‘n fiktiewe tv program wat die lug gesien het oor ‘n ‘fly fishing’ boek deur ‘n fiktiewe outeur, dat die gevolge was dat die mense in die winkels gaan soek het vir hierdie boek deur hierdie outeur. Die vervaardigers van die tv reeks het dit agtergekom en toe so ‘n boek laat skryf en die fiktiewe outeur met die bekendstelling van die boek weer laat leef in regte lewe. So het fiksie in realiteit verander deur die bemiddeling van die media. Wat le hierin opgesluit?

Hy raak ook aan die gedagte dat ‘n oorgekompliseerde kunsmatige omgewing die self se persepsie van realiteit selfs kan verswak.

Hy vrae weer hoe dit moontlik is om ‘n perspektief op realiteit te behou in ‘n era wanneer die onwerklike al meer gerealiseer word… Wat hier ‘n belangrike onderskeiding is, is die verskil tussen die ontologiese en die epistimilogiese. Die ontologiese vraag is: “wat is realiteit?” Die epistimilogiese vraag is: “wat is die waarheid?” Die ontologiese vraag is egter die swaarder vraag in die geval, want wat die waarheid is kan van verskillende benadering van die werklikheid aangepak word. Is jy ‘n rasionalis of ‘n empirisis? Maak nie saak watter een jy is nie, jy moet steeds gebruik maak van dieselfde realiteit om by ‘n epistimologiese antwoord uit te kom, dus weeg die ontologie swaarder. Die faktor van bespreking is juis wat hierdie soeke na waarheid kompliseer, want die virtuele is besig om nuwe werklikhede te skep wat net so indien nie meer van ‘n realiteit is as realiteit self nie. So om die vraag, wat is die waarheid te antwoord, is dit eers nodig om die vraag, wat is realiteit, te antwoord. Die ontologiese gaan die epistimologiese voor.

In sleutelteorie sou die sleutel wees vir die waarheid; [ontologie] [skep] [epistimologie]

‘n Baie belangrike sin in sy inleiding wil ek graag aanhaal, omdat dit die kern van die virtualiteit aanraak; “Take away reality, and all that is left is relativism, a belief that truth van be established simply by asserting it, that the self is all that exists – no, that myself is all that exists…Empowered by the personal computer, liberated by virtual reality, the individual becomes the God of his or her own universe.” (Woolley 1992:9)

Hierdie inleiding het my baie aan die dink gehad, veral kontra die twitter beweging wat besig is om soos ‘n veldbrand te versprei. Ek wonder of jongmense regtig ‘n alternatiewe realiteit vir hulself wil skep? Of dit nie net dalk ‘n modegier is wat hulle volg en onbewustelik deel in die skeppende proses van hul digitale self nie. Ek wonder. Ons het te make met ‘n skaapsamelewing. Moet die kerk saam met sy skape stap in hierdie rigting om sy skape te verstaan? Die metafoor leen hom daartoe uit. Wat gevaarlik is, is dat in hierdie selfskeppende realiteit is die eie ek outonoom, en anders as in die wereld is God die Skepper. Daar moet dus gesoek word na die gevolge van hierdie selfskepper aksies, en hoe dit die verhouding van die mens tot God beinvloed.

Omdat die mens nie vir God nodig het om ‘n virtuele wereld te skep nie, mag dit dalk onderbewustelik die mens beinvloed om te dink dat hy/sy nie vir God nodig het om skeppend in die wereld te handel nie. Om mense se lewens te vorm vanuit die perspektief van die evangeliese boodskap, of om mense bloot uit die eie ek te vorm. ‘n Eie ek wat nooit by die diepte van die evangelie kan kom nie, ‘n eie ek wat bloot op die immanente gefokus sal bly en weinig sal uitkring na die transendente toe vanwee die gaping van die transendente in die virtuele, of omdat die transendente in die virtuele juis die self is.

So as daar gevra word, hoe moet daar gekommunikeer word in hierdie nuwe era van die virtuele, dan moet daar ook gevra word of daar gekommunikeer moet word, en of daar eerder gemedieer moet word? Om dit wat ons glo en bely nie slegs in die virtuele in te dra nie (kommunikasie) maar dit daar te laat vestig (medieer) en hoe dit gedoen word is heeltyd aan die verander omdat die digitale wereld juis van so ‘n vloeibare aard is.

Losse gedagtes wat kan maal tot iets meer konkreet.

Leave a comment